Bure…kinders….en slange!

Junie 5, 2008 om 8:25 vm | Posted in Vorige paadjies | 15 Kommentaar

Julle weet hoe kan ‘n broeis vinkmannetjie ( is dit wat mens dit noem???) ‘n mens se palms opfoeter as hy so ernstig besig is om nes te bou!! “n Klompie jare terug plant ek toe mos vir my ‘n paar palmpies teen die muur tussen ons en die bure. Ek is trots op my boompies totdat die eerste vinkmannetjie besef hier is nuwe boumateriaal in die omtrek. Binne ‘n paar dae  verander die pragtige blare in sulke stoppelrige stokkerige uitsteeksels! En so gaan dit elke “Vink-Broei-Seisoen”  Ek volg al wat raad is, van foeliestroke tot  winkelsakke in die bome hang. Manlief skiet selfs sommer net skote met sy “BB Gun”……tot hy eendag een raakskiet en die skeibriewe bo in die laai lê. Ek het dan gesê maak hulle skrik! Ek het NIE gesê maak hulle dood nie. Ek kry toe raad om rubberslange in die bome te hang. Die raad werk maar ai ek weet nie wie skrik die grootste nie, die vinke of ek as ek in die  spesifieke bedding werk en onverwags op een van die verdekselse slange afkom wat uit die boom geval het. Ek het ‘n heilige vrees vir slange…dood of lewendig, ek vrees die goed!!

Aan die anderkant van die muur bly ons bure. Die huis was vir baie jare ‘n huur-huis en dus het mense gekom en gegaan en het ons nie altyd die bure te goed geken nie. Op die stadium bly daar toe al iemand vir ‘n geruime tyd en ek en buurvrou groet en wissel soms ‘n paar woorde. Een oggend is ek in die tuin en hoor ‘n gepraat in die bure se erf. Die volgende wat ek hoor is ‘n geweerskoot. Ek vermoed hier is groot poefies en vlug die huis in. Doodnuuskierig gaan loer ek by die venster en sien hoe buurman ewe gedwee in sy kar klim en ry en moedertjie maak vir hom die hek oop en weer toe. Dit lyk toe darem nie na moord of doodslag nie. Ek is toe ook te ordentlik om te vra wat gebeur het. Ek kry toe egter my antwoord binne ‘n paar dae. Buurvrou kom klop aan en vra of ons water ook af is, sy vermoed die munisipaliteit werk iewers aan die waterpype. Eks tap saam met haar om te gaan kyk of daar iewers fout is. Ons kry haar twee stoutgat seuntjies speel langs die huis en hulle vertel ewe braaf hoe hulle hierdie kraan hier lang die huis baie styf toegedraai het. Dit is toe die kraan wat water aan die huis verskaf…..probleem opgelos!

Ek gebruik toe sommer die geleentheid om uit te vis omtrent die geweerskoot. Sy skater van die lag en sê ek sal nie glo wat gebeur het nie.  Haar tuinjong het haar die oggend kom roep en gesê daar is ‘n slang in die tuin. Sy huiwer nie ‘n oomblik nie en bel haar man wat dadelik huistoe jaag. Tuis gekom, hol hy net die die huis in, gryp die geweer en vra die jong waar is die slang. Die wys hom toe onder ‘n bos teen die muur (die muur tussen ons en hulle) Hy sien ook net ‘n deel van die slang….lê aan en skiet! Hulle sien net hoe die slang in die lug wip en bly lê. Die ou kruip toe onder die bosse in om die slang uit te haal………en kom uit met ‘n rubberslang!! Teen daardie tyd in die storie kruip ek al amper op die grond van die lag want ek besef hier teen die helfte van die storie wat die uiteinde gaan wees. Ek vertel haar van my vete met die vinke en die slange in die palms. Saam het ons toe lekker geskater oor die hele storie.

Hulle het intussen getrek…..my palms staan…..elke broeiseisoen kaalgestroop…..die vinke is gelukkig…..die slange is weg……en almal se senuwees is kalm!!!

15 Kommentaar »

RSS feed for comments on this post. TrackBack URI

  1. Ek ‘picture’ hom al – die buurman – ewe trots dat hy daai ‘onding’ raakgeskiet het onder die bos😆

  2. he he baie lekker storie. Ek gaan ook rubber slange in my palms begin hang. 🙂

  3. Gie gie ek sou ook getrek het. Lekkerrrr storie die om te vertel🙂

    Maar jy moenie spot nie …. ek kamp graag en in daardie lekker tye is ons ook Sodwana toe vir ons jaarlikse 3 weke gekamp oor Desember. En elke keer kom ons tweede met onse vriende die Aap gesin. Toe kry Marilee die idee by een van haar vriendinne! “Plaas rubber slange op jou tafels en orals in die tent”

    Wel dit het gehelp. wonder wat die Ape gedink het van daardie gesin wat op E244 gekamp het, seker lekker geskinner dat mense kind nie bang is vir slang😉

  4. Eben ons het ook al gekamp met slange vir die ape….tot iemand een aand een van die goed in my bed gesit het!!!! Met my vrees vir ‘n slang het ek omtrend die hele Natalse Noordkus wakker gegil!

  5. Lekker storie! My pa het ook so stryd met die palms gehad, erger gemaak omdat hy nie die palms wou hê nie, maar my ma. Rubberslange maak toe ook hulle verskyning. My ma gril te vreeslik, rubber of nie, en begin wonder of die palms die moeite werd is…

    So maand of wat later sit die vink BO-OP die slang en trek die blare weer in stukke…

  6. Hoe lekker het ek nou gelag. Ek vermoed dis omdat so iets presies by ons ook kan gebeur. Hier hang juis ‘n ‘slang in die sipres voor ons huis, maar ek het hom nie daar gesit nie. Ouboet het die ding die lug op gegooi en daar het hy sy rusplek gevind. Ons wag maar vir die volgende stormwind om die outjie daar uit te kry…. 😆

  7. Rubberslange! Dis iets om te onthou!
    Ek het saam met ‘n ou vuurvreter suster gewerk. Sy het ook eendag vertel van haar frustrasie met die vinke en haar palms. Die een oggend kom sy aan diens, en sy lyk heel selfvoldaan. Nee, vertel sy, toe die vinke so te kere gaan in haar palms daai oggend, toe vlieg sy uit haar huis en gaan kap AL die palms af. Ek het my doodgelag, want dit het genuine gelyk of sy dink sy spite die vinke actually!

  8. Nou sal jy seker gladnie by my kom koffie drink nie!! Ons hoop om oor ‘n paar maande baba Glendas te he, want hulle was seker vir ‘n week konstant “besig”!!

  9. Daar laaities van die bure klink na ‘n handvol. Gelukkig het hulle nie die geweer geneem om van slang se kind ontslae te raak nie.

  10. Lekker lag ek nou!

  11. Uitstekend! Ek het nou lekker gelees. Ek het weer ‘n probleem gehad met ‘n tortelduif so ‘n paar maande terug. Sy het nes gemaak bo-op die sekuriteitslig op ons voorstoep, ook nie juis veel van ‘n nes nie, hoor, sommer net so ‘n paar takkies opmekaar gesit, nie naastenby soos die “kunswerk” van ‘n vinkmannetjie nie. Sy het nogal twee keer daar gebroei, maar na die tweede keer het ek maar ‘n plastieksak om die lig gebind want as die kleintjies daar is, is dit maar ‘n bietjie van ‘n gemors. Dis nou al ‘n paar maande terug, maar sy “bly” nog steeds daar by ons. Sien haar gereeld op die TV antenna sit en koer, baiekeer kom sy tot op die stoep. Ek dink sy wag net vir my om daai plastieksak af te haal!!

  12. Hoekom so stil … vertel vir ons nog ‘n Slangstorie!!!🙂

  13. Lekker storie!

  14. Sjoe, die stilte maak my doof!

  15. Jissie, as daar net ‘n bos tussen jou en die buurman is, behoort jy hom aan sy snor te trek en hom te vertel dit is GEVAARLIK wat hy gedoen het!

    Imagine jy het aan die ander kant van die bos gewerk en hy skiet nie so lekker nie.

    Sjoe!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.
Entries en Kommentare feeds.

%d bloggers like this: