Twaailaait

Maart 13, 2008 om 1:55 nm | Posted in Uncategorized, Vorige paadjies | 5 Kommentaar

 Ek hou nie daarvan om ander mense se werk op my blog te gebruik nie.  Maar hierdie was vir my so snaaks en ek het dit gebêre.  Ek kan nie onthou waar ek dit gekry het of wie s’n dit was nie.  Ek sê jammer vir die persoon met wie se kalwers ek ploeg……..maar geniet dit!

Ek weet oom Hennerik van ‘next door’ is op pad voor ek sy geskuifel by die voordeur hoor so ‘n paar dae gelede. Die worshonde vertel my. Hulle hol op en af tussen die voordeur en die kombuis en igonoreer die yskas. In die yskas is weense worsies en sjoklits en my worshonde kan die oopmaak van die yskas en die geritsel van ‘n tjoklit papier en ‘n weense worsie pakkie vanaf ‘n myl weg ruik.Oom Hennerik het altyd ‘n knipmes en ‘n stukkie biltong in sy sak en hy kerf dit sulke lekker kou stukkies vir hulle af en biltong is hoër op die lys van gunsteling mmmmmmmmpies (die ‘magic ‘woord) as worsies en tjoklits. Oom Hennerik hou van worshonde.

Ek sien oom Hennerik is beswaard en ek loop haal solank die KWV en water uit want dit is na alles “sundowner” tyd en oom Hennerik maak baie beter bors skoon met ‘n knertsie in die hand. Oom Hennerik teug so aan die KWV en sug ‘n keer of wat. Dis die teken dat ek moet vra wat’s fout en ek doen so.“Jongie”, sê hy. “Die tante is erg omgekrap”, en hy tuur so in die verte en suie nog so ‘n bietjie aan die KWV’tjie. “Jy sien ek loop nou die middag maartjies om solank die pos te loop uithaal want die tante is aan’t kook vir die honne en die katte”. (Tante en die buurvrouens maak beurte om vir die buurt se arsenaal van honde en katte kos te maak. Dis ‘n mengsel van pap, hoenderpote en sous. Elkeen kry ‘n kookbeurt en dan deel hulle dit tussen die lot van hulle vir die week se rantsoene. Dis net my worshonde wat nie saameet nie want EK gril vir die brousel. ) “Innie pos is daar net so ‘n kaartjietjie-dingetjie aan die tante geaddresseer en eers skrik ek my buite weste want ek dog ek het dalk ‘n verjaarsdag of ‘n ding vergeet, maar ek onthou die tante verjaar mos eers so skuins duskant Krismis en toe loop gee ek vir haar die kaartjietjie-dingetjie en sy sê; maak ook, maak oop jy kan mos sien my hanne is besig.” Oom Hennerik sug weer swaar en teug eers weer ‘n bietjie aan die KWV’tjie en ek sien ek sal aanstons moet opvul, maar oom Hennerik moet eers sy sê sê.“Jongie, ek maak die kaartjietjie oop en dis ‘n uitnooisel na ‘n tee-ding. Jy weet mos een van daarie goeters wat julle vroumense doen as een in die huwelik gaan tree”“Kombuis-tee, oom”, help ek hom.“Ja, net so! Ai toggie, die ou wêreld, Ag ja”, sug hy.“Nou wat nou oom?” help ek.“Jy sien die neukery is dat die tante nie eers die mens wat wil loop trou al ooit in haar dags des lewens gesien het nie. Maar hier kom hierdie kaartjietjie aan en hulle seg die tante moet R300-00 stuur vir die persente en dan moet sy nog vadoeke en sulke goeters ook saamvat vir die tee-ding. En daar is ‘n lys by van al die goeters wat hulle wil koop met almal se R 300-00’de en dis alles sulke verskriklike duur goed. Ek lees die ding so en voorlat ek nou die fout maak om hardop te loop lees en daar kom ‘n ongeluk want die tante staan en roer aan die pot warm pap, dink ek miskien moet die tante die kaartjietjie later self lees en ek sê so. Maar nou ken jy ook die tante. As sy ‘n ding wil, dan wil sy ‘n ding! Maar ai, ek moes maar liewer my voet neergesit het en die tante daarop gewys het dat die Bybel sê jy moet jou man gehoorsaam. Maar ek gee maar in. Ai, ai, ai. En die arme Twaailaait. Tsk, tsk, tsk”.Verduideliking: Twaailaait is ‘n swart rondloperkat wat een aand so by sononder by oom Hennerik en die tante ingetrek het – vandaar sy naam. Dit was liefde met die eerste opslag tussen Twaailaait en die tante en waar die tante gaan, daar gaan Twaailaait. Nou, met die pap en hoender kokery sit Twaailaait bokant die stoof in die vensterbank die kokery en gade slaan en vir sy moeite kry hy natuurlik so nou en dan ‘n proe-stukkie uit die pot.

Ek gaan “top” die KWV’tjie op, oom Hennerik gee ‘n goeie suig aan die glas en vertel verder. “Ja, daar loop maak ek die fout en lees hierrie ding vir die tante. Maar sy roer daai pappot eers dat ek dink die ding foeter nou skoon van die stoof af en toe pluk sy daai houtlepel uit die pappot en soos waffere “spietkop” wat in spitsverkeer jou ry-hier-en-ry-daar, waai sy die ding in die lug rond terwyl sy onbetaamlike woorde gebruik oor die blêrrie tjeek van wie ook al die ding vir haar, ‘n vreemdeling so-te-sê, gestuur het en waar de hel moet sy, ‘n pensionaris R 300-00 uitkrap vir ‘n persent vir iemand wat sy haar oê nog nooit op geslaat het nie. En met die waai van die lepel vol warm pap, klap sy vir Twaailaait deur die gevreet en ander kant by die venster uit. Eers toe hy grondvat aan die ander kant, skrou arme ou Twaailaait net eenmaal soos ‘n afkopskaap en ek sien hy hol doer oor die draad en in die veld in. En ek sê, mamma was dit nou nodig? en sy vererre haar vir my en sy gooi daai einste paplepel hier in my geweste waar ek by die kombuisdeur in die lig gestaan en die kaartjietjie vir haar voorgelees het. Haar aaim hierrie keer is nie so goed nie en sy mis my met duime, kind, duime. Maar ek besluit daar kan nou ‘n erge skermutseling in daai kombuis wees as ek my nie liewer uit die voete uitmaak nie en ek loop kyk liewer waar Twaailaait is.

Ag, ja”.“En is Twaailiaat OK oom?”“Nee, hy het doer onder ‘n bos oorkant die straat loop sit maak en al hoe ek weet dis hy, is die stuk wit pap wat so dwars oor sy kop gepleister sit. En hy krap en hy krap om die stuk warm pap van sy kop af te kry maar ek dink die blessitse pap was nog so warm dit het sy pote ook nog gebrand”.“Haai shame, oom Hennerik?” En waars Twaailaait nou?” vra ek dood besorgd.“Nee hy loop maar so op en af tussen die jaart en die bos daar oorkant. Die tante probeer hom nader lok met pierinkies melk maar as hy haar sien dan hol hy. Nou sit sy maar die kos doer by die hek neer en elke dag bring sy die bakkie bietjie nader, maar Twaailiaat kom nie huistoe nie. Hy mag 9 lewens hê maar die blessitse kat leer darem uit sy foute. Nou’s die tante natuurlik eers opstêrs oor die tee-ding”.“Ek neem aan die tante het die uitnodiging van die hand gewys?”“Luister, jongie, hier op my jare kom leer Twaailaait my ‘n ding. Jy karring nie waar die warm pap vandaan gekom het nie. Nie as jy weet wat goed is vir jou nie.”

So het ek en oom Hennerik die nag in verwyl met nog ‘m KWV’tjie of twee. Twaailaait slaap nou in die garage en oom Hendrik gaan sit maar die kossies neer want Twaailaait het sy liefde vir die tante skynbaar verloor. Of hy’s net dêm versigtig!. 

5 Kommentaar »

RSS feed for comments on this post. TrackBack URI

  1. Hiehie…dit sorg darem vir ‘n lag vandag!

    By the way, jy is getag.
    http://bashinginnieboendoes.wordpress.com/2008/03/17/tydskrif-tag/

  2. Dit is histeries!!! Nou ja, ‘n kat is mos nie ‘n klip nie. 🙂

  3. Whahaha! Kostelik! Ek het nou sommer hardop gelag, die studente kyk my skoon skeef aan!😆

  4. Ja inderdaad… dis nou sommer ‘n baie oulike storie!😆

  5. Marina, ek het vir jou e-mail gestuur, Dinsdag al, maar dit is “delayed”. Miskien is jou mailbox vol?


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.
Entries en Kommentare feeds.

%d bloggers like this: