Kamp en tente

November 2, 2007 om 12:57 nm | Posted in Uncategorized | 6 Kommentaar

Ek lees hierdie week in WEG die skreeusnaakse (soos altyd) insetsel van Dana Snyman oor tente. Hy vra die vraag, wat is die beste, ‘n seil-tent of ‘n Nylon-tent? En dit was net genoeg om my herinneringe aan kamp op te roep.

Ons was as gesin aanvanklik GLADNIE kampers nie.  Eerder bankrot by die huis gesit as om te kamp. Maar toe land ons in ‘n selgroep. Hulle was “hervormers” en nie gesien in die lig van kerk nie, wel in die lig van kamp!

En so begin ons kamp. Eers met geleende tente, later ons eie karavaan en later weer ons eie tente weens die onbegaanbaarheid van plekke waar ons gaan kamp.

Ons gunsteling plekke was Mabibi aan die Natalse Noordkus, Kosi-Baai en vir ietwat meer geriewe Cape Vidal. Laasgenoemde nog in die dae wat dit ons ‘n hele uur geneem het om van die hoofhek tot by die kamp te ry omdat die pad so sleg was.

Dana se tent vraagstuk kon ek heelhartig op kommentaar lewer siende dat ons albei kon beproef ! Wat ‘n seiltent betref kan ek getuig dat hy verseker bestand is teen aapk-k(jy  kan dit nie anders noem nie)  Dit het ons ervaar met ons eerste kamp by Cape Vidal waar die ape jou ongelooflik teroriseer. So pak mens ook ‘n hele apteek in as jy in die boendoes kamp “want daar is nie ‘n dokter naby nie” Van spierverslappers tot krampdruppels ry saam in ‘n volledig toegeruste noodhulptas/toolbox. En luister na ou kampers se raad as dit kom by die toerits van jou tent. Sorg dat die ritssluiter bo aan die opening van jou tent is as jy uitgaan. Aap se kind is baie slim en rits hom tjoef tjaf oop as hy onder sit. Ek maak die fout!! Die ape rits ons tent oop en baljaar in die noodhulpkis!! Toe ons by ons kamp kom is die wereld besaai met bottels buisies en afgelekte pille. (Net die suikerlagie afgelek en dan neergegooi). En natuurlik sit hulle ons en beloer vanuit die bome. Daardie nag moes die tent dit ontgeld. Die ape se mage het ontsteld geraak van al die proe, en vanuit die bome rondom ons tent het ‘n skittery van epidermiese proporsies ontstaan…. bo-oor ons seiltent. Vandaar my voorkeur vir ‘n seil tent.

Maar daar kom tye wat jy genoodsaak is om jou Nylon tent te gebruik. So vir ‘n vinnige wegbreek en om so lig as moontlik te “travel”. Weer by Cape Vidal waar ons elke keer op dieselfde 2 staanplekke kamp want dit le so mooi tussen die bome en heel eenkant. Maar dit le in ‘n gat. So slaap on sin die groot dome tent en die kinders in hulle kleintjie, so entjie van ons af. Teen laat aand sak daar storm der storms oor Cape Vidal uit en ons besluit om te gaan inkruip, want wat doen mens nou verder vir die res van die aand ? Net om na ‘n ruk “n verskriklike gil te hoor “Willie!!! Petrus!!! Word wakker hier is groot k-k! Julle kinders spoel weg!! Ek skrik my in ‘n stilstand in en toe ek my voet van die bed sit voel dit asof jy op ‘n waterbed trap!  Al die water van die storm spoel deur ons staanplek want dit is die deurloop omdat dit in ‘n gat is. Nadat die kinders “gered” is kon ons die skok behandel met ‘n lekker paar slukke KWV sommer so uit die bottel! Nylontent?  Ek het gemengde gevoelens want ons tent binne was kurkdroog maar die arme kinders se tente was deurnat!

Die seil of nylon vraag kan jy natuurlik oor deurtrek na gazebo’s toe. Ook daar kan ons getuig van albei. Weer-eens die nylon kwessie van lig en gemaklik. Maar ai die seil een vat soveel plek en is swaar.

By Kosi Baai ervaar ons die ongemak van die groot seil gazebo. Ons snorkel baie graag by Kosi mond en met ons eerste besoek trek ons op met gazebo, wetsuits, snorkels, paddavoete, cooler box en ons plaaslike gids Robert. Met laagwater maak die lagune ‘n lekker eiland in die middel en dis waar ons ons self posisioneer. Ons raak so in vervoering met die snorkel dat ons nie merk hoe die gety draai en die water al meer opstoot rondom ons gazebo nie. Met ons uitklim uit die water sal ons sien die goed dryf al rond. Probeer nou ‘n gazebo afslaan!! Ons besluit toe dat as elkeen ‘n voet van die gazebo vat, ons die water so  kan aandurf. Maar die stroom rondom die eiland is nou al diep en sterk. Kyk in ‘n wetsuit snorkel en paddavoete kan ek verbasend goed swem, maar ai as ek dit uittrek…. kom ek nie lekker weg nie. Ek gryp toe die gazebo poot in die een hand en ‘n boogieboard in die ander (vir maklik dryf natuurlik) En daar trek ons! Natuurlik was daar al ‘n klompie toeskouers op die strand wat die petalje gadeslaan. Natuurlik het dit vir hulle gelyk na ‘n klomp verdwaalde Egiptenare met hulle “afdakkie” met die wapperende handoeke ook nog orals ingedruk. By die stroom kon ek nie regop in die water staan sonder dat die water oor my kop sou spoel.  Gelukkig vir die boegieboard en Clarissa wat my aanmoedig “Ma, fokken skop tog net!!! (Nie dat sy altyd so met my praat nie.) kon ons die oorkant haal ‘n Paar jong manne het toe darem ingespring en kom help.

So my siening, seiltent JA, maar daardie seil gazebo hou jy flippen VER van water af!!!

6 Kommentaar »

RSS feed for comments on this post. TrackBack URI

  1. Uitstekend! Nou lekker gelag. Ook sommer regop gesit toe ek sien die post gaan oor tente, want ek en liefie wil juis hierdie Kersfees vir die seuns ‘n tent koop, maar weet niks van kamp af nie. So BAIE dankie vir goeie (en baie snaakse) raad.

  2. Ek het jou storie baie geniet!😆 Het self al so ‘n paar kamptrippies gedoen waar dit vreeslik gereën het. Jy het my met ‘n glimlag laat onthou.

  3. En ek is so lus vir gaan kamp! Nou kom staan en maak jy dit erger, hehe

  4. Hallo.

    Nuut hier. Ek laaik jou blog.

    Was jy al op myne?

    Groete,
    Frank Botha

  5. Hallo, ek is ook nuut hier, en ja, ek laaik ook baie!
    Die kampeerdery is gogga wat kan seer byt, ne!

  6. Hoe gaan dit met jou dogter? Ek hoop daar is beterskap?


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.
Entries en Kommentare feeds.

%d bloggers like this: