Hoekom is ek gelukkig
Augustus 19, 2008 at 10:24 vm | In Vorige paadjies | 18 Commentsbashinginnieboendoes.wordpress.com/ het my getag om te sê waarom ek gelukkig is.
Ek is gelukkig omdat ek elke oggend my oë kan oopmaak, my man langs my kan SIEN, te kan HOOR hoe my kinders ook wakker word en gesels. Ek is gelukkig omdat God my soveel geseën het om al my sintuie te kan gebruik om Sy skepping te kan geniet! Ek is SO gelukkig om Sy kind te kan wees!!!
Ek is gelukkig om my familie en vriende om my te hê. Daar te wees as hulle my nodig het en te weet daar is mense wat vir my omgee!
Maar ek is ook gelukkig om soms net alleen te wees, ‘n boek te lees of sommer net op my eie te droom.(Ek is gelukkig om nog te kan droom)
Ek is gelukkig om nog te kan LAG!! Ten spyte van al die negatiewe dinge darem nog die snaakse in die lewe ook raak te sien.
Ek is gelukkig………….om nog gelukkig te kan wees!!!!
Die volgende mense is gelukkig om huiswerk te kry…
delliesedinge.wordpress.com/ http://diekas.wordpress.com/ http://tekkies.wordpress.com/
‘n Passat, 3 kinders ‘n Pappagaai en ‘n strandbal…..
Augustus 13, 2008 at 7:24 vm | In Vorige paadjies | 5 CommentsBaie goeie vriende van ons…al vir 18 jaar. Kiewiet en sy vrou. Kiewiet het die naam omdat dit by hom pas. Het jy al ‘n kiewietjie gesien wat stadig loop? Nee, hulle is altyd aan die hardloop! Nou dit is waar Kiewiet sy naam kry!
Jare terug toe ons hulle leer ken het, het hulle ‘n ligblou Passat stasie-wa gery. Let wel die diesel model. En die van julle wat al so lank in die lewe is sal onthou hoe het daardie diesel modelle geklink as hulle “gestart” word. So kyk Kiewiet se vrou bedags na ‘n paar kleuters. Een oggend laai sy die klompie in die Passat om Biblioteek toe te vat. ‘n Nuwe outjie in haar sorg sit voor en toe sy die Passat “start”, spring hy regop en sê “Tannie moet oppath ek thweer hier ith ieth loth in hierdie kar the enjin!”
Maar my eintlike storie kom toe Kiewiet en sy gesin een vakansie Kaap toe gaan. Dit was instelling dat die Passat gelaai word met Pa, Ma, 3 kinders en die Pappegaai Charlie. So is die gesinnetjie Kaap toe en aan die einde van die vakansie word die terugtog aangepak. Pa, Ma 3 kinders, Charlie en……….’n nuwe strandbal! Die sitplekke word platgeslaan om die terugtog so gemaklik moontlik te maak vir die kinders.
Alles gaan goed en wel totdat verveling tussen die 3 kindertjies intree. So word die platgeslaande sitplek ‘n gemaklike speelplek met die strandbal. Met die gespelery tref die bal kort-kort vir Kiewiet agter die kop en mettertyd begin sy moer-metertjie die hoogtes in skiet! Hy begin waasku dat die vonke gaan spat as die bal hom nou nog een keer tref. Toe hulle Beaufort Wes inry tref die bal hom weer agter die kop en die gort is gaar. Net daar in die hoofstraat stop die Passat. Kiewiet spring uit die kar en hardloop agter om die kar om die kroos uit te sorteer. Maar……..hy vergeet van die sleepwaentjie wat agter-aan die Passat gehaak is ……en slaan neer oor die disselboom!!! Hy koop sy eie stukkie grond in Beaufort Wes! (Beautifull was hy defnitief nie toe nie!) Hy staan op pluk die deur van die kinders oop en gee elkeen ‘n goeie loesing. ‘n Kleurling vrou wat verbystap aanskou die hele petalje en toe Kiewiet die strandbal gryp en met ‘n geoefende arm die bal die lug ingooi, hardloop sy met ope arms om hierdie godgegewe geskenk vir haar kinders uit die lug te vang!
Vir die res van die terugtog is daar nie ‘n woord in die Passat gepraat nie. Die kinders was doodstil en selfs Charlie het nie sy gebruiklike “morsgat” of kekkel-laggie ge-uiter nie.
Ons spot gereeld vir Kiewiet en sê hy wil mos so graag ‘n ou erfie by die see hê, maar hy het darem al so ou stukkie grond halfpad see toe in Beaufort Wes!
Blog at WordPress.com. | Theme: Pool by Borja Fernandez.
Entries and comments feeds.





