Bure…kinders….en slange!
Junie 5, 2008 at 8:25 vm | In Vorige paadjies | 15 Comments
Julle weet hoe kan ‘n broeis vinkmannetjie ( is dit wat mens dit noem???) ‘n mens se palms opfoeter as hy so ernstig besig is om nes te bou!! “n Klompie jare terug plant ek toe mos vir my ‘n paar palmpies teen die muur tussen ons en die bure. Ek is trots op my boompies totdat die eerste vinkmannetjie besef hier is nuwe boumateriaal in die omtrek. Binne ‘n paar dae verander die pragtige blare in sulke stoppelrige stokkerige uitsteeksels! En so gaan dit elke “Vink-Broei-Seisoen” Ek volg al wat raad is, van foeliestroke tot winkelsakke in die bome hang. Manlief skiet selfs sommer net skote met sy “BB Gun”……tot hy eendag een raakskiet en die skeibriewe bo in die laai lê. Ek het dan gesê maak hulle skrik! Ek het NIE gesê maak hulle dood nie. Ek kry toe raad om rubberslange in die bome te hang. Die raad werk maar ai ek weet nie wie skrik die grootste nie, die vinke of ek as ek in die spesifieke bedding werk en onverwags op een van die verdekselse slange afkom wat uit die boom geval het. Ek het ‘n heilige vrees vir slange…dood of lewendig, ek vrees die goed!!
Aan die anderkant van die muur bly ons bure. Die huis was vir baie jare ‘n huur-huis en dus het mense gekom en gegaan en het ons nie altyd die bure te goed geken nie. Op die stadium bly daar toe al iemand vir ‘n geruime tyd en ek en buurvrou groet en wissel soms ‘n paar woorde. Een oggend is ek in die tuin en hoor ‘n gepraat in die bure se erf. Die volgende wat ek hoor is ‘n geweerskoot. Ek vermoed hier is groot poefies en vlug die huis in. Doodnuuskierig gaan loer ek by die venster en sien hoe buurman ewe gedwee in sy kar klim en ry en moedertjie maak vir hom die hek oop en weer toe. Dit lyk toe darem nie na moord of doodslag nie. Ek is toe ook te ordentlik om te vra wat gebeur het. Ek kry toe egter my antwoord binne ‘n paar dae. Buurvrou kom klop aan en vra of ons water ook af is, sy vermoed die munisipaliteit werk iewers aan die waterpype. Eks tap saam met haar om te gaan kyk of daar iewers fout is. Ons kry haar twee stoutgat seuntjies speel langs die huis en hulle vertel ewe braaf hoe hulle hierdie kraan hier lang die huis baie styf toegedraai het. Dit is toe die kraan wat water aan die huis verskaf…..probleem opgelos!
Ek gebruik toe sommer die geleentheid om uit te vis omtrent die geweerskoot. Sy skater van die lag en sê ek sal nie glo wat gebeur het nie. Haar tuinjong het haar die oggend kom roep en gesê daar is ‘n slang in die tuin. Sy huiwer nie ‘n oomblik nie en bel haar man wat dadelik huistoe jaag. Tuis gekom, hol hy net die die huis in, gryp die geweer en vra die jong waar is die slang. Die wys hom toe onder ‘n bos teen die muur (die muur tussen ons en hulle) Hy sien ook net ‘n deel van die slang….lê aan en skiet! Hulle sien net hoe die slang in die lug wip en bly lê. Die ou kruip toe onder die bosse in om die slang uit te haal………en kom uit met ‘n rubberslang!! Teen daardie tyd in die storie kruip ek al amper op die grond van die lag want ek besef hier teen die helfte van die storie wat die uiteinde gaan wees. Ek vertel haar van my vete met die vinke en die slange in die palms. Saam het ons toe lekker geskater oor die hele storie.
Hulle het intussen getrek…..my palms staan…..elke broeiseisoen kaalgestroop…..die vinke is gelukkig…..die slange is weg……en almal se senuwees is kalm!!!
Blog at WordPress.com. | Theme: Pool by Borja Fernandez.
Entries and comments feeds.