Kinders!!!

Mei 12, 2008 at 12:52 nm | In Vorige paadjies | 14 Comments

Verlede naweek kon ons die ongelooflike rustigheid in ons huis nie glo nie. Pa installeer die videomasjien wat lanklaas gebruik is en toe die kinders almal Saterdag aand uit is, haal ons al die gesin se ou videos uit en verkneukel ons aan ons gesin se doen en late van so ongeveer 17 jaar terug. Ai die klere die hare en ons lê soos ons lag vir die kinders se maniertjies.

Dit laat my terugdink aan toe ons oudste in Gr1 was. So 15 jaar terug. Ons was vir die Paasnaweek by ‘n Jagplaas naby Tolwe in die Bosveld. Ons was 3 gesinne wat daar gaan uitspan het. Dit was die tyd wat die klaargemengde drankies soos Harvey Wallbanger, Blue Movie, Screwdriver ens net die lig gesien het. So word ek een aand ‘n Bue Movie aangebied….wat bietjie sterk vir my gestel was met die gevolg dat ek my drankie gedrink, en toe sommer gaan omkap het op die bed. Tot genot van die res van die geselskap…..natuurlik.

So moet die graad 1 klas mos (soos streng volgens die ou skooltradisie van destyds) die eerste dag van die skoolkwartaal alles vertel wat die vakansie gebeur het. (Onderwysers is die eerste dag mos maar min lus vir werk en wat is nou lekkerder as om die jongste nuus uit die gemeenskap te hoor?)

Toe dit my kind se beurt is staan sy op en vertel dat ons op ‘n jagplaas was vir die naweek “en weet juffrou,my ma moes na haar eerste blue movie reguit bed toe gaan!!” Nie verduidelik van drankies nie, niks….net dit. Die hele gedoente kom toe via die beste maatjie se ma by my uit. Sy sê haar dogter kom by die huis en vertel haar die storie en vra wat is ‘n blue movie. Want blykbaar moes die juffrou die vertelling liewers kortknip…..het mos nou nie geweet van die nuwe drankie nie.

Gelukkig het ek die juffrou geken en het op die eerste en beste geleentheid die situasie gaan verduidelik. Sy het lekker gelag en was natuurlik effe verlig ook…..bygesê.

So kan kinders mens partykeer sonder jou medewete in ‘n baie verdagte lig bring……en onnies lekker laat giggel!

                                                                           

Blog at WordPress.com. | Theme: Pool by Borja Fernandez.
Entries and comments feeds.