Wat is in ‘n naam?
December 6, 2007 at 8:46 vm | In Vorige paadjies | 41 CommentsDie afgelope naweek sien ek weereens op die R21 die nuwe naambord (…….. Sisulu) en wonder ook weer hoekom, is dit regtig nodig? Die oorspronklike naam is gekies vir ‘n rede, wat dit ookal mag wees. Hoekom dit verander.
‘n Klompie kilometer verder tussen Alberton en Vereeniging, by Meyerton op die R59 is daar die afrit na Johan Le Roux straat. ‘n Knop kom sit in my keel, want hoe lank sal ek dit nog kan lees? Wat is in hierdie naam…… ek vertel julle.
Dit is 1970. Woensdag 28 Januarie. ’n Blonde matriekseun en sy sussie van 9 jaar sit en ontbyt eet voordat hulle elkeen in hulle rigting skool toe gaan. Johan groet sy sussie en sy ma. Sy sien hoe hy deur ‘n veldjie na die bushalte stap. Hy ry met die skoolbus na Meyerton. Sy ma sien hoedat hy wag dat al die kinders in die bus klim en hy die busdeur agter hom toetrek.
Dit is die derde week van skool en Johan is die jaar verkies tot die Leerlingraad. Hy is baie geliefd onder skoolkinders sowel as volwassenes. ’n Week tevore ontvang hy die Presidents-toekenning van die Voortrekkers. Hy speel vir die eerste span rugby, is ‘n kranige redenaar en ook lid van die skool se musiek-groep “Die Plebs”
Die middag middag dek Johan se ma tafel en hou sy kos warm. Hy sal teen 14:30 by die huis wees en wegval in sy gunsteling Kerrie en Rys. Teen 3 uur is hy nog nie daar nie en die ma raak bekommerd. Johan se pa kom by die huis aan en wonder oor ‘n samedromming van mense by ‘n spoorweg oorgang waar hy verbyry.
En dan die verskriklike nuus…… ‘n Vriend van die gesin bring die nuus dat die skoolbus betrokke was in ‘n botsing met ‘n trein by die oorgang…… Johan was in die bus……. Chaos, verskrikking, wonder, hoop!
‘n Buurseun kom tuis en vertel dat hy gesien het Johan skop die nooduitgang oop en hy is seker Johan het uitgespring en is dalk opgeneem in die hospitaal. Almal keer dat die ouers na die ongelukstoneel gaan en stel voor om eerder hospitaal toe te gaan en daar te gaan navraag doen.
Na ure se soek wag en navrae kom die nuus Johan het nie oorleef nie!! Hartseer… smart…..ongeloof…..
Die volgende dag word die ware verhaal vertel. Die bus het gestol op die oorgang, en die kinders het gesien hoe ‘n naderende trein op hulle afkom. Johan het die nood-uitgang uitgeskop, maar nie dadelik uitgespring nie. Hy het eers 2 laerskool seuntjies deur die venster gegooi en toe die res van die kinders na die voorkant van die bus gedruk, omdat die trein die bus aan die agterkant sou tref. Blou kneusplekke onder die seuntjies se arms getuig van hoe hy hulle gegryp het.
Johan en 22 ander kinders sterf in hierdie ramp en ‘n gemeenskap is in rou gedompel.
Johan se optrede gaan nie ongesiens verby nie. Hy ontvang ‘n nadoodse toekenning van die Suid -Afrikaanse Noodhulpliga en ontvang die hoogste toekenning vir Dapperheid in S.A. – Die Wolraad Woltemade toekenning. (Hy word erken as ‘n Kinderheld in Suid Afrika)
Die Stadsraad van Meyerton vernoem ‘n straat na Johan. Die rede vir die knop in my keel……Johan was my broer…….
41 Kommentaar »
RSS skakeling vir menings op die blad. TrackBack URI
Lewer kommentaar
Blog at WordPress.com. | Theme: Pool by Borja Fernandez.
Entries and comments feeds.
Dis hartseer en tog is dit ‘n mooi verhaal. Dis seker dié grootste liefdesdaad wat ‘n mens kan doen – om jou lewe op te offer sodat ‘n ander mens kan leef!
Comment deur kaalvoetkind — December 6, 2007 #
Sjoe, hoe hartseer is ek ook nou! Slegte nuus is beslis nie lekker nie! Ek het ook vandag gehoor my sus, 40jr, het vergroeiing/gewas aan haar rug. Ons sit juis en wag om te hoor wanneer ‘n biopsie gedoen kan word.
Ons hoop daardie naam sal vir altyd daar wees! Dis hartseer dat ons alles moet prysgee wat vir ons waardevol is!
Liefies
Comment deur Tersia — December 6, 2007 #
Ek is nou hoendervleis so groot soos ek is. Dis die rede waarom “hulle” die name so maklik verander – is oor dit niks vir hulle beteken nie, want niks beteken vir “hulle” enigiets nie.
Comment deur Xanika — December 6, 2007 #
((((((((((((((((((((HUGS))))))))))))))))
Eish…. is so ‘n ongelooflike mooi maar hartseer entry………
Comment deur platterfuss — December 6, 2007 #
Ek het al die verhaal gehoor en nooit gedink ek sal ooit die die paadjie van die dapper seun se suster kruis nie. Dit is by Henley-on-klip, nie waar nie? Ek dink ook iemand het ‘n gedig oor die ongeluk geskryf, ek sal bietjie kyk in Gerrit Komrij se “Die Afrikaanse Poësie In ‘n Duisend En Enkele Gedigte”, ek dink dit was daarin.
Oor politieke straatname is ek nie so baie gepla nie, die politici na wie strate in die vorige era vernoem is, was ook maar … politici. Maar as hulle ‘n straat soos hierdie gaan probeer verander sal ons heftig in opstand moet kom.
Comment deur mykopop — December 7, 2007 #
Korrek , dit was by Henley -On -Klip.
Daar was ‘n gedig in Die Groot Verseboek ook opgeneem.
Verskeie van sy vriende het ook gedigte geskryf, een van hulle Dawid Louw het ook ‘n bundel uitgebring waar die gedig in is.
Ek sal in die toekoms in ‘n inskrywing van die gediggies sit, dit is baie mooi!
Comment deur Marina — December 7, 2007 #
Ai, dis so ‘n mooi storie, maar tog so hartseer. Dit sal nog meer hartseer wees as daardie straat se naam moet verander. Ek hoop vir jou part dit doen nie. ((hugs))
Comment deur Dellie — December 7, 2007 #
Baie mooi inskrywing!
Comment deur boerinballingskap — December 7, 2007 #
Ek het die gedig opgesoek, dis “Spooroorwegramp by Henley-on-Klip” deur J.C. Steyn. Hy skilder nogal ‘n grusame toneel op plekke. As dit bedoel is om te help verhoed dat so iets ooit enige plek weer gebeur, is dit goed. Ek het dit gekry in ‘n Senior Verseboek, derde uitgawe 1972, derde druk 1979, dus min of meer die een wat ek in my hoërskoolloopbaan gebruik het. Dit is ook in Komrij.
As jy kans sien, kan jy gerus vir ons nog inskrywings maak, bv. ‘n foto van Johan, ‘n foto van Johan Le Roux-straat (naambordjie) en die plek waar die ongeluk gebeur het.
Comment deur mykopop — December 8, 2007 #
Ek het op hoerskool die gedig gedoen en dit van baie hartseer.Ek woon nou in Australie en ek kry nerens die gedig nie.Kan iemand dit asb vir my stuur?
Comment deur Gloria Koekemoer — Oktober 23, 2009 #
Marina
Ek lees vandag vir die eerste keer jou blog en sit nou hier met trane in my oë, dit is regtig ‘n mooi maar hartseer storie en ek hoop dat hierdie straatnaam vir ewig daar sal wees.
Comment deur Suz — December 8, 2007 #
‘n Baie aangrypende storie.
Ek stem saam met Kop se kommentaar. Oor politici se name is ek nie altyd so baie gepla nie, maar dit sal heeltemal onanvaarbaar wees as ‘n straat soos hierdie se naam verander word.
Dankie dat jy dit met ons gedeel het.
Comment deur labmuis — December 9, 2007 #
Soe, al bogenoemde vriende bevat iets wat ek wou sê, maar, dis pragtig, dis hartseer maar ek glo jy kan met TROTS sê “… ek is Johan se suster!”
Naam verandering …. ek sal later op my blog my mening gee, en ek glo nie ek sal vêr verkeerd wees.
Tonne groete en (((sterkte)))
Comment deur Eben — December 11, 2007 #
(((voetjies)))
Comment deur Roer — December 11, 2007 #
Marina,
Dis, soos die ander se, ‘n vreeslike hartseer, maar tog baie mooi storie. Ek onthou ook daardie gedig. As hulle daardie straatnaam wil verander, moet dit regtig beveg word. Dis tog nie ‘n politiek-geinspireerde naam nie.
Comment deur boendoe — December 12, 2007 #
Ons vertel te min sulke verhale vir mekaar. ‘n Hartseer herinnering glo ek, maar ook lekker om so aan jou broer te mag dink. Dankie vir die inskrywing.
Comment deur attie — December 12, 2007 #
Marina
My eerste besoek hier by jou en hierdie inskrywing is treffend en hartseer. Jou boetie het ‘n ongelooflike nagedagtenis agtergelaat.
Ek dink die gedig gaan een van die voorgeskrewe werke wees vir die 2009 se groep matrieks.
Comment deur Sami — December 12, 2007 #
‘n Geseënde Kersfees, en ‘n mooi 2008 vir jou en jou gesin!
Blogging off.
Comment deur mykopop — December 12, 2007 #
Hi Marina,
Ook die eerste keer wat ek hier kom loer. Sjoe! Ek sit van voor af en huil. Dit maak mens vies om te dink hulle wat alles so verander doen nie eers ondersoek om te sien waar die name vandaan kom nie. Ek stem saam, as daardie straat se naam verander gaan word, beveg dit. Dankie dat jy jou verhaal met ons gedeel het. Mag sy ’spirit’ nog lank saam daai straatnaam voortleef!
Groetetjies
Sonneblom
Comment deur sonneblomseplekkie — December 13, 2007 #
Ek moet nou hard sluk om nie te sit en snik nie!
Wat ‘n ongelooflike verhaal van onselfsugtige dapperheid!
Comment deur dirkltjie — December 14, 2007 #
amazing.hoop jy is moer trots op jou boet.Daar is nie vandag nog baie sulke mense nie.goed gedoen
p
Comment deur Platkuif — Januarie 4, 2008 #
te laat ek sit en snik alklaar… jou broer was en is iemand om op trots te wees. en daai straat se naam moet n gou din geskiedenis bly staan!
Comment deur TristonJ — Januarie 4, 2008 #
Daar is ‘n gesegde onder van die Amerikaanse Indiane wat sê dat iemand eers regtig sterwe as sy naam nie meer onthou word nie. Selfs al word die straatnaam verander — en ek hoop van harte dit gebeur nie — mag ons nooit opofferings soos hierdie vergeet nie. Ook die gevolge van so ‘n daad van eindelose onbaatsugtige durf en moed op julle, sy geliefdes.
(Ook my eerste besoek aan jou werfjoernaal.)
Comment deur Scribendius — Januarie 18, 2008 #
[...] Wat is in ‘n naam van voetjies [...]
Pingback deur My vyf? Nee, JULLE vyf! « Sonkind — February 8, 2008 #
Gelukkig het die DA midvaal munisipaliteit nog nie met sulke dinge begin nie. Ons het nog Verwoerd weg(as ek reg onthou was Meyerton en Heidelberg sy eerste setel as lp) Meyer weg( stigter van Meyerton of op sy grond.) Op ligter noot is hier ook nog ‘n k****r straat. Almal het hulle foute maar gelukkig het hulle hier nog nie met name gepeuter nie.
Die monument in die skooltuin bewys dat die gemeenskap die heldedaad tot vandag toe onthou en ek sal my dogterjie(3jr) hiervan leer want daar is in die gemeenskap so min mense wat hulself sal gee ter wille van ‘n ander!
Comment deur mossie — February 20, 2008 #
Jou broer was ‘m amazing seun. Ek hoop daai naam bly vir altyd, ek kan verstaan hoekom jy so baie waarde heg aan die naam. Dis so hartseer storie…
Comment deur Da Mario — February 27, 2008 #
[...] Wat is in ‘n naam Voetjies [...]
Pingback deur Tydskrif « Dellie se Dinge — Maart 25, 2008 #
Ai dankie, dat jy my ‘n glims in hierdie een gegee het. Dankie dat jy hierdie stukkie smart met my gedeel het. Mag sy naam verewig in Meyerton onthou word….
Comment deur Pikkelik — April 3, 2008 #
Ek het ook al in Randfontein met n dame Mej Hartman van daardie jaar gesels sy was ook in die bus as klein dogtertjie, Ek het haar op die trein ontmoet met n geselsie het sy my n album gewys wat haar ma vir haar saam gestel het uit koerant uitknipsels. Was vir haar n groot traumatiese ervaring. Ek dink dat Johan n gestuurde engels in n mensie lyfie was. Julle kan se julle het n engel wat julle vooruit is.
Comment deur paula — Januarie 20, 2009 #
Ek het laasweek, oppad na Vanderbijlpark, verby die Johan le Roux-afrit gery en ek moet erken dat dit verskeie emosies in my opgewek het. In my matriekjaar (bykans twee dekades terug)het ons as voorgeskrewe gedig “Spooroorwegramp by Henley-on-klip” behandel en sedert daardie tyd het hierdie sombere verhaal my aangegryp. Ek het alles probeer oplees oor die ongeluk en natuurlik die held Johan. Ek het ongelukkig baie min informasie gery, net n dowwe afskrif van koerant-berig getiteld “Die held Johan”. Johan se absolute onselfsugtige opoffering inspireer & motiveer mense tot vandag nog. Hy was n WARE held. Die wereld vandag kort mense soos Johan. My innige meegevoel aan die familie van Johan. Mag Johan se heldedaad vir nog baie n inspirasie wees in die jare wat kom en mag sy naam nooit vergete word nie. Toe ek verby sy naambordjie gery het, het ek klein gevoel in die skadu van hierdie dapperheld se naam. Ek wonder hoeveel mense vandag hulle bestaan te danke het aan Johan se opoffering daardie dag? Mag Johan nooit vergeet word nie.
Comment deur Brenton — Junie 30, 2009 #
Brenton, dankie vir dit. Ek het goeie nuss. Daar is moontlikheid dat daar ‘n film rondom die gebeure gemaak gaan word. Sal verdere info hier plaas indien beskikbaar.
Comment deur Marina — Junie 30, 2009 #
Hi Marina
Sjoe, dis wonderlike nuus! Dit sal n vreeslike aangrypende verhaal wees om op film te sien. Ek hoop van harte hierdie film sal binnekort die lig sien. As ek mag vra: Hoeveel onthou jy nog van Johan? Ek vra uit blote belangstelling, want jy was nog baie jonk toe dit alles gebeur het, maar ek kry die gevoel dat Johan die soort persoon was wat n blywende indruk op almal rondom hom gemaak het. Ek dink net dit sal regtig wonderlik wees om ook meer van die persoon agter die helde-daad te hoor, want die laaste paar dramatiese sekondes van sy lewe het hom verewig in die geskiedenis van Suid-Afrika, maar daar was sowat 18 jaar van sy lewe wat ek glo mense (soos ek) ook van sal wil hoor. Ek het dikwils gewonder oor watse soort mens hy regtig was, want dis duidelik dat mense soos hy skaars is op hierdie aarde. Enige herinneringe wat jy wil deel sal opreg waardeer word.
Groete
Comment deur Brenton — Julie 1, 2009 #
Brenton, daar is soveel wat ek jou kan vertel, al was ek jonk(9jr) toe dit gebeur het. Wil jy my dalk mail (marina@savet.co.za)dan kan ek jou vertel. As dit moontlik is?
Comment deur Marina — Julie 2, 2009 #
My oom (Piet Fourie) op daai bus. Hulle was opad huis toe na skool.
Comment deur Marais Opperman — Julie 25, 2009 #
Dit is so hartseer ek kan die onthou aspf dit gister ge beur het ek huil nou so al wil ek n lang hartseer verhaal tik sal ek dit nooit regkry nie mens vergeet mos nooit soveel hartseer nie. Livia Landman
Comment deur Anoniem — Augustus 18, 2009 #
Hier is ‘n “shortcut” na ‘n geocache wat ter ere van John gemaak is. Geocahing is ‘n sport waar “skatte” gesoek word met ‘n GPS.
http://www.geocaching.com/seek/cache_details.aspx?guid=cdf21af3-4110-408e-be84-5e1a81af1436
Comment deur Quintus — Augustus 28, 2009 #
Hi,Marina
kan jy nie dalk vir my foto,s of enige ander inligting wat jy oor die ongeluk het e-mail nie. Ek wil he my seuntjie moet oor Johan as held n praatjie lewer. dankie
Comment deur Marlene — September 8, 2009 #
Hi Marina
Ek het twee seuns huidiglik in DR Malan en volgens hulle het die verfilming gister en vandag by die skool plaasgevind.Die vrysteling van die fliek word verwag op die 40ste herdenkig van die ramp.Ek was verlede jaar die voorsitter van die beheerligaam by Laerskool Japie Greyling waar daar ook n gedenkplaat van Johan is.Al verander hulle die straat naam sal die gedenkplaat vir nog baie lank daar wees.My man was saam met Jannie in die klas.Groete
Comment deur Madeleine Cloete — Oktober 9, 2009 #
Hi almal,
Ek is tans in die VSA…die storie bring baie memories terug. Ek was n student by Dr Verwoerd en onthou die naam plaatjies van almal wat in die ongeluk gesterf is. Een van my tennis studente is van SA en sy suster het n rol in die film. Dit het my weer laat ondersoek instel oor wat gebeur het. Johan was baie dapper…
Cheers almal
Abrie du Plooy tennis4duphooy@hotmail.com
Comment deur Abrie du Plooy — Oktober 12, 2009 #
ek ry vir die afelope 9 jaar gereeld in johan re loux, maar nooit besef dat die naam so groot betekenis het nie. ek kani wag om die film tesien. dink jule almal is great wat hier by betrokke is
Comment deur chanelle cronje — Oktober 24, 2009 #
Hier is die gedig wat ek na ‘n baie lang soektog opgespoor het…ek bly self in Henley-on-Klip, en het hierdie hartroerende gedig onthou van skooldae af (dekades voor ek Henley toe sou trek). Dit is ‘n ongelooflike ‘village’ om in te bly, en dis ‘n eienaardige gevoel om te dink dat so traumatiese gebeurtenis in so stil, onbekende dorpie kon afspeel.
Spooroorwegramp by Henley-on-Klip
J.C. Steyn
Henley-on-Klip
Stasienaam by Vereeniging
Onwerklike vereniging –
Oerengelse samestelling
Op Afrikaanse klipbodem
Henley-on-Klip
skoolbus by spooroorweg
in slaggat gestol
(bloed stol op klip)
‘n sneltrein snel voort
dood betyds, dood
Henley-on-Klip
Hansie-op-gruis
Helena-aan-gras
23 van gras
drie-en-twintig
wat die wolke en die veld,
die sonlig en die weerlig
nooit weer sal belewe nie,
vir wie mamma nooit meer
‘n toebroodjie sal smeer nie,
wat vir pa nie half vererg
oor nuwe wiskunde sal terg nie.
Tussen bleek hande en groen sakdoeke,
honde vol manewales in rooi prenteboeke,
blaaie met aftrek en deelsomme,
ontlede sinne, aardes, sonne,
En ‘n Bybel wat vertel van sonde,
tussen die vlees en die gras
soek ‘n seun in bloed en glas…
“Waar’s my sussie, ek dink sy was…”
Wie huil so hartverskeurend
as ‘n seun by ‘n verskeurde
hals oor kop tot tone?
Of is moeders se trande egter,
of die klein weggedroogde trane
van die laaste oomblikke
angs voor die slag
by Henley-on-Klip
trane-op-klip.
Ledemate-onder-sakke
hande onder allerhande
bewysstukke vir lykskouings,
aanklagte van heinde,
huldigings van verre
(‘n monument vir die held Johan
Wat gesterf het om drie maats te red).
Langsamerhand verloor
egter trane teen egte klip;
leed raak gou vergeet.
Die nuwe uitwiskunde word gewis
doodgewoon gewoonweg dood.
Comment deur Eugene Goosen — November 24, 2009 #